2007-08-03

Pretoria Skou 2007 – Twaalf dae vol pret

PRETORIA SKOU - 22 Augustus tot 2 September 2007


Meer as R50 miljoen word vandeesmaand in Tshwane se ekonomie gepomp wanneer 'n kwartmiljoen besoekers na Suid-Afrika se voorste skou, die Pretoria Skou, stroom om munt te slaan uit die Skou se uitgebreide aanbieding van vermaak- en inkopiegeleenthede. Die Pretoria Skou, wat onder die top familie-skoue in Suid-Afrika gereken word, is nasionaal bekend vir sy kleurryke uitstallings, uitstekende winskopies, goeie en verskeidenheid vermaak en indrukwekkende landbouprogram. Die Skou word vanaf 22 Augustus tot 2 September 2007 by die Tshwane Events Centre aangebied.


Die Pretoria Skou is een van die grootste skoue in Suid-Afrika en spog met meer as 42 000 vierkante meter se uitstalruimte onderdak, 30 000 vierkante meter se buitelug uitstalruimte, arenas, 'n pretpark en kinder- en kitskosareas. Sowat 750 handelsuitstallers, insluitend invoerders van internasionale produkte, verseker dat daar uitstekende spesiale aanbiedinge is in meer as 200 produk-kategorieë, wat wissel van sport, motorvoertuie, huishoudelike produkte, elektroniese toestelle en opvoedkundige produkte tot meubels, bote en karavane.


Wim du Toit, hoof uitvoerende beampte van die Pretoria Skou, sê een van die grootste voordele van die Skou is dat besoekers so baie opsies en aanbiedinge op een plek kry. "Na 'n besoek aan die uitstalsale kan besoekers 'n tydjie afknyp om saam met die gesin die wye verskeidenheid vermaak te geniet. Die vermaaklikheidsprogram by vanjaar se Skou is so saamgestel dat daar iets is vir almal is – van musiek en opvoedkundige vermaak tot perdespring, saalperde en vertonings deur die Star Stallions – daar is werklik geen perke op wat 'n familie-uitstappie na die Pretoria Skou kan bied nie."


Die handelswaarde van die Skou word vanjaar weer herbevestig deur die hoeveelheid nuwe uitstallers wat hulle produkte gaan tentoonstel. "Die sukses van die Pretoria Skou as 'n verbruikerskou word onderstreep deur die feit dat ons vanjaar weer al ons lojale uitstallers terugverwelkom. Sommige van hulle stal al vir meer as 50 jaar by die Skou uit. Daarbenewens verwelkom ons vanjaar ook sowat 200 nuwe uitstallers" sê du Toit.


Daar is onder andere 'n hele paar nuwe motorvoertuighandelaars wat reeds hulle deelname aan vanjaar se Skou bevestig het en Saal L sal uitsluitlik gevul word met die nuutste motorvoertuie op die mark, asook met nuwe innoverende motortoebehore. Motorvoertuighandelaars wat in die saal verteenwoordig sal wees sluit in Ssangyong Centurion, Citroen Hatfield, Mandarin Centurion en Mahindra Zambezi.


Die Skou het die afgelope paar jaar uitstekende uitvoerende kunstenaars gelok en vanjaar is geen uitsondering nie. Een van die hoogtepunte op die skouprogram is die wêreldgehalte vermaak wat gedurende die twee naweke van die Skou aangebied word. Hierdie program sluit optredes deur Theuns Jordaan, Watershed, Dozi, Karen Zoid, Gordon’s Suitcase, UJU, Concord Nkabinde, Lira en Judith Sephuma in. "Die program is saamgestel om in die meeste musieksmake te val, vanaf jazz, rock, funk en hip hop tot kontemporêre en kwaito musiek. Ons is trots daarop om van die land se beste kunstenaars op ons verhoog te hê, en om in 'n posisie te wees waar ons die publiek kan nooi om die optredes gratis te geniet. Die enigste fooi betaalbaar is die ingangsgeld vir die Skou," sê du Toit.


Die pretpark beloof vanjaar van die beste ritte in die land en adrenalienverslaafdes en pretjagters kan groot opwinding te wagte wees. Diegene sonder senuwees van staal en wat eerder verkies om eerder net te kyk moet nie die vermaaklike arenaprogram misloop nie, wat uitvoerings insluit deur die SA Polisiediens, die eerste saalperd vertoning wat in jare by die Skou gehou word en die amptelike bekendstelling van Sing for Africa, 'n kindersorg-inisiatief wat poog om Suid-Afrikaners te motiveer om op enige moontlike wyse by te dra tot kindersorg. Die groep sal hulle boodskap, die "Wekroep van Afrika se Kinders", deur musiek uitdra. Die projek sal met 'n musikale skouspel op 24 Augustus 2007 bekendgestel word. Kinders van alle kultuurgroepe sal deel wees van hierdie opvoering, met die ondersteuning van professionele kunstenaars.


Vanjaar se Skou bied ook iets spesiaal vir reptiel-liefhebbers. Suid-Afrika se dodelike dosyn – die 12 gevaarlikste slange in die land – sal by die standplaas van die Huyani Reptile Educational and Breeding Centre te sien wees. Hierdie slange sluit die pofadder, swart- en groenmamba, rinkhals, boomslang, kobra en die Gaboen-adder in. Opvoedkundige praatjies en demonstrasies sal gereeld aangebied word om besoekers in te lig oor hoe om hierdie slange te identifiseer en wat om te doen wanneer jy een van hierdie dodelike reptiele teekom.


Rugbygeesdriftiges en in besonder ondersteuners van die Vodacom Blue Bulls moet nie dié span se handtekeningsessie by die Skou mis nie en besoekers met 'n oog vir die skone kan veral uitsien na die kroning van Mej Pretoria Skou 2007 en Mej Pretoria Skou Tiener by 'n galageleentheid op 17 Augustus.


Ander hoogtepunte sluit die landbou-afdeling van die Skou in wat, volgens du Toit, 'n groot rede is waarom die Skou so gewild is. "Behalwe die Pedi, Ile de France, Santa Gertrudis en SA Boerperd Nasionale Kampioenskappe, sien ons ook uit na die finale rondte van die Vleissentraal-LNR Prestasietoetsklas en die Prestasiekudde van die Jaar kompetisie. Die Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte vir Perdespring is werklik die moeite werd om te sien en vind in die Hoof Arena vanaf 24 tot 26 Augustus plaas."


Volgens Du Toit floreer die landbou-afdeling van die Skou. Daar is 150 perdestalle en 30 addisionele tydelike fasiliteite wat gemiddeld 1500 perde huisves gedurende skoutyd. Die beesstalle het plek vir 1500 diere wat elke jaar gemiddeld 80 persent beset is. Sowat 700 stuks kleinvee kan in die gebruikersvriendelike skaap- en bokfasiliteit gehuisves word. "Ons glo dat die Pretoria Skou 'n groot rol het om te vervul in die bekendstelling van die landbousektor aan stadskinders. Dit is wonderlik om die uitdrukkings op die gesiggies van ons jong besoekers te sien wanneer hulle die eerste keer 'n miniatuur perdjie of 'n pasgebore kalfie sien."


Spesiale aandag word weer vanjaar gegee aan die kweek van omgewingsbewustheid en die vergroening van die Pretoria Skou. In samewerking met ABI, die Plastiek Federasie van Suid-Afrika, Collet-a-Can en die Tshwane Metro, is 'n herwinningsplan saamgestel wat sal sorg dat meer as 17 ton afval gedurende die Skou herwin word. Verskeie herwinningstasies sal geinstalleer word en besoekers aan die Skou sal aangemoedig word om verskillende soorte afval, soos blikkies, glas en papier, in verskillende houers te gooi sodat dit herwin kan word. Diere-afval sal ook herwin word. "Ons ondersteun die poging van die Tshwane Metro om die stad se afval aansienlik te verminder teen 2010 en ons doen alles moontlik om besoekers aan die Skou meer sensitief te maak oor die impak van afval op ons omgewing," sê du Toit.


Die gemak van skoubesoekers geniet weer hoë voorrang by die beplanning van vanjaar se Skou. Daar is genoeg parkering, en 'n pendeldiens is beskikbaar om besoekers tussen die parkeerareas en die hekke te vervoer. Spesiale parkeerfasiliteite vir gestremde besoekers is ook beskikbaar.


Die Pretoria Skou is daagliks tussen 10h00 en 21h00 oop. Ingangsfooie is R35.00 per persoon vir volwassenes, R 20.00 vir kinders tussen vier en 14, en R25.00 vir studente en ensioenarisse oor 60 (met identifikasie). Ingang vir kinders onder 4 is gratis. Parkering is beskikbaar teen R12 per voertuig.


Vir meer inligting besoek http://www.pretoriashow.co.za/