2007-08-14

Vertoon pienk ballonne vir Danielle

Die ouers van Daniëlle Esterhuizen (5) – wat in Desember 2006 tydens 'n visvanguitstappie by die Van Riebeeckmeer-ontspanningsoord in Randfontein deur booswigte doodgeskiet is terwyl sy op haar ma se skoot gesit het – het 'n beroep op die publiek, besighede en skole gedoen om op 16 Augustus pienk ballonne te vertoon om hulle teenstand teen alle moorde op kinders, asook ander misdaad te toon. Diederick en Anél Esterhuizen se doel met die “Pienk ballonne vir ʼn Engel”-dag is om openbare bewustheid rakende moorde op kinders te verhoog in 'n poging om 'n bydrae daartoe te lewer dat ander ouers en kinders nie deur dieselfde lot as hulle getref word nie. Daniëlle sou op 16 Augustus haar sesde verjaarsdag gevier het. Die burgerregte-inisiatief AfriForum staan die Esterhuizens met hulle poging by.

Al ses skole op Randfontein het reeds aangedui dat hulle op 16 Augustus pienk heliumgevulde ballonne sal loslaat om standpunt teen kindermoorde in te neem. Verskeie besighede en lede van die publiek in Randfontein het ook laat weet dat hulle op dié dag pienk ballonne sal vertoon.

Volgens Anél Esterhuizen het die positiewe reaksie van die mense van Randfontein hulle laat besluit om ook skole, besighede en mense elders in die land te vra om die aksie te ondersteun deur pienk ballonne op 16 Augustus te vertoon. Mense wat nie ballonne het nie, word as alternatief deur die Esterhuizen-gesin gevra om wanneer dit hulle pas, op 16 Augustus ʼn minuut stilte te handhaaf.

Die Esterhuizens het ook aangedui dat hulle om 14:30 by die Sterkfontein-begraafplaas (waar Daniëlle begrawe is) pienk ballonne sal loslaat.

Persone, skole en besighede wat die aksie wil ondersteun, kan Jaco Matthee by 072-585-0614 skakel, of 'n e-pos vir meer inligting stuur aan die volgende adres: danielleesterhuizentrust@gmail.com

Anél Esterhuizen

082-469-5941

Afriforum tuisblad